Sparta Σπάρτη | |
---|---|
Stad | |
Die ou (voorgrond) en die nuwe Sparta (agtergrond) | |
Koördinate: 37°04′N 22°26′O / 37.067°N 22.433°O | |
Land | Griekeland |
Streek | Peloponnese |
Oppervlak | |
• Totaal | 1,182 km2 (0,456 vk. myl) |
Hoogte | 750 m (2 460 ft) |
Bevolking | |
• Totaal | 35 600 |
• Digtheid | 30/km2 (80/vk. myl) |
Poskode | 230 54, 230 59, 231 00 |
Skakelkodes | 27310 |
Webwerf | www.sparti.gov.gr |
Sparta (Grieks: Σπάρτη) was die hoofstad van Lakonië in antieke Griekeland en was vir eeue lank een van die belangrikste stadstate van Griekeland. Die stad is in die noorde van die sentrale Lakoniese vlakte geleë op die Peloponnesiese skiereiland, op die regteroewer van die Eurotas.
Danksy ʼn eensydige gerigtheid op die militêre lewe, het Sparta in die 6e eeu v.C. tot die magtigste stad in Griekeland ontwikkel. Sparta het 'n besondere posisie tussen die ander Griekse stede ingeneem deurdat 'n klein groep burgers (homoioi of gelykes) 'n groot groep onderdane oorheers het. In die 4e eeu v.C. het Sparta ʼn groot nederlaag teen Thebe gelei en nooit daarvan herstel nie. In dieselfde eeu het die stad onder Romeinse beheer gekom. Dit is veral die Spartaanse opvoeding en die politieke stelsel wat geleerdes vandag nog interesseer.
Oor die oudste geskiedenis van Sparta (ook Lakedaimon genoem) is daar nog minder bekend as oor die ander Griekse stede, onder meer omdat die Spartane heelwat later as die ander Grieke, eers in die 3e eeu v.C, met die geskiedskrywing van hulle streek begin het. Die ander Grieke was ook nie altyd goed op die hoogte van die besondere ontwikkeling van Sparta nie.
Die argeologiese materiaal is ook onvoldoende om die gapings in die geskiedenis aan te vul. Dit is egter wel bekend dat Lakonië, die landstreek waarvan Sparta later die hoofstad sou word, in die Miceense tyd (1600-1200 v.C.) 'n belangrike koninkryk was. In Homerus se Ilias, wat hom in die Miceense tyd afspeel, word Menelaos die koning van die ryk genoem. Na die vernietiging van die Miceense beskawing deur onder meer Doriese volksverhuisers (omstreeks 1200-1050 v.C.) het die stad Sparta in die 10e eeu v.C. deur die samesmelting van 'n aantal Doriese dorpe (synoikismos) ontstaan.
Terwyl die ander Griekse stede gebiedsuitbreiding bewerkstellig het deur die stigting van kolonies, het Sparta, wat nie aan die see geleë was nie, in dieselfde tyd oorgegaan tot die onderwerping van Lakonië en later ook Messenië. Die oorspronklike bevolking is in die proses waarskynlik op 'n paar na tot slawerny onderwerp. In teenstelling met die gebruik in ander gebiede wat deur die Doriërs verower is, was die slawe nie die persoonlike eiendom van hulle veroweraars nie, maar van die staat. Hulle moes as boere op 'n stuk land wat vir die doel aan hulle toegewys is (klèros), werk. 'n Vaste gedeelte van die opbrengs was vir die meester, die res vir hulleself. Materieel het die nuwe soort slawe, wat helote genoem is, nie ʼn ondraaglike lewe gehad nie.
Hulle het genoeg voedsel gehad en was as staatslawe minder onderhewig aan die nukke en grille van 'n meester. In ander opsigte was hulle posisie egter besonder sleg. Die feit dat daar baie meer helote as Spartane was (moontlik 10 helote vir elke Spartaan), het beteken dat die Spartane voortdurend opstande gevrees het en streng opgetree het om dit te verhoed.
Dat hulle nie sonder rede bekommerd was nie, blyk uit onder meer die Messeense opstande in die 7e eeu wat met groot moeite onderdruk is. Die Spartane het elke moontlikheid van 'n opstand by voorbaat probeer onderdruk deur hulle baasskap oor die helote op verskillende maniere te demonstreer. Spartaanse jeugdiges moes byvoorbeeld in verskillende stadia van hul militêre opleiding 'n heloot ritueel doodmaak om te bewys dat hy gereed was vir verdere opleiding.
Hulle is verder verneder deur tydens "krygsoefeninge" as die vyand op te tree, deur tydens feeste vir nie-helote te moes sing en dans, en altyd dierevelle as klere te moes dra. Die helote is as kultuurlose mense beskou wat nie veel beter was nie as die diere in wie se velle hulle geklee was.